Bible Answers
Back to questions
As Jesus God se seun is of God is hoekom het hy self nie geweet wanneer eind van wereld is nie?
Om die vraag in konteks van die hele Bybel se inhoud te antwoord wil ek net die volgende uitwys. Soos jy ook uitgewys het, Jesus, die Seun is ook God. Die Godheid of anders genoem, die Drie-Eenheid, bestaan uit drie onafhanklike Persone, soos die Bybel ons leer. Hierdie drie Persone, die Vader, Seun (Jesus Christus) en die Heilige Gees is al drie God en hulle hele wese en denke en funksionering is absoluut in harmonie en eensgesindheid met mekaar. Soos ons weet is God (dus al drie die Persone) alwetend en bestaan Hulle van ewigheid af. Dus voor die skepping van die aarde en die daaropvolgende sondeval het Hulle bewus gewees van wat gaan gebeur. Die raadsplan van God het ook die sending van die Seun na die aarde om vir die sondes van die mens, as mens te kom sterf beplan en inplek gesit. Uit hierdie aanvanklike posisie as God en Seun het Jesus wel voor hy na die aarde toe gekom het geweet wanneer die einde van die wereld sal wees. Dit was en is deel van die Godheid (Vader Seun en Heilige Gees) se raadsplan om die sonde tot 'n einde te bring. Toe die Seun egter as mens na die aarde gekom het as "volkome" mens het Hy Sy goddelike eienskappe en vermoeens "agter gelaat". As dit nie so gebeur het nie kon die satan God beskuldig het dat dit nie 'n mens is wat vir die sondes van die wereld gesterf het nie, maar God self in die vorm van Sy Seun. Gedurende Jesus se leeftyd op aarde het Hy alles wat Hy geweet het geleer vanaf Sy moeder se skoot tot by Sy sterwe soos enige mens leer en sal leer. Sy kennis was net soos vir ons as mens deur die werking van die Heilige Gees bemiddel. Die groot verskil tussen Jesus (as mens) en ons is dat hy sondeloos was en sondeloos gelewe het terwyl Hy net so versoek was soos ons. Dus uit hierdie agtergrond het Hy die stelling gemaak dat net die Vader weet, want as mens het hy nie geweet nie. Na sy kruisiging en hemelvaart waar Hy nou weer aan die regterhand van God (die Vader) sit weet Hy weer alles in Sy hoedanighied as God.